Featured

Ode aan Ouma

Helo aan my dierbare een volger, Toortsie en my kinders en dalk kleinkinders eendag as julle hierdie lees.

Ek deel hierdie storie waaraan ek vandag dink. Gedeeltelik fiksie, gebasseer op ware spesiale, herinneringe.

So ek het die dag twaalf geraak en ek het letterlik ‘n verjaarsdagpakkie aangehad. Turquoise, my ouma se gunsteling kleur. Ek het vir die dag alleen by haar gaan kuier en ek’t so mooi gevoel – daai verjaarsdag gevoel: hare los en die Lente my parfuum. So amper tiener en ek voel eweskielik met meer emosies en ek voel daai dag móói!

Ek het altyd eers aan die deur geklop by haar klein, oranje woonstel, maar sy het my nooit gehoor nie. By haar kamer ingekom het sy voor haar spieël gesit en haar lang grys hare met ‘n sagte borsel geborsel. RSG in die agtergrond het sy vir my, my verjaarsdag kaartjie gegee. Dit was altyd afgesluit met “Drukkies en soentjies, Ouma”.

Alles omtrent haar was net sag en soet en liefdevol. Snaaks hoe ek kan onthou hoe mense met haar lelik was. Soos die een tannie wat daai dag aan haar deur kom klop. Hard en onbeskof. ‘Môre ou vrou’, aanvallend hoor. Êrens het sy gesê my ouma is suinig. Die audacity, simpel vroumens… het ek gedink. Wie het nou vir haar genooi? Dis elkgeval my verjaarsdag.

Maar hier is nou die mooi deel. Daai engel vrou ouma; Sy’t eintlik gesweef soos wat sy na die tannie toe stap en vir haar ‘n môre drukkie gee. En ‘n wang-soen. ‘Jy is net betyds, Gerda*. Ons vier ‘n verjaardag. Ek sit die ketel aan.’ Gerda het nog bietjie gehap, maar ouma se warm liefde het haar bitterheid voor my oë ingesluk.

En dit was my twaalfde verjaardag. Ek, die twaalf jarige lady, ouma en Gerda. Tee in fyn teekoppies wat ek met ‘n tuitmond drink en die geelste geel vlakoek wat in jou mond smelt. Hulle het vir my gesing en ouma het een groot kers in die koek gedruk. Soos daai wit kerse wat mens gebruik as die krag afgaan.

Dankie oums, jou liefde het daai dag virewig gered.

Featured

Die Gelukkige Kolon

Mens wat lees, ek gaan nie doekies omdraai in hierdie post nie. Sit dit goed in die oopte, man – dit is vryheid. Om doekies om te draai is skaam wees is nou regtig om jouself in ‘n klein bondeltjie toe te vou en in ‘n hoek te gaan weg kruip. There ain’t no shame!

Die laaste jare het ek gedink ek was gebore om hardlywig te wees. Ek sou partymaal vir ‘n week nie kan toilet toe gaan nie – soms selgs langer! aarom ek het gedink ek moet maar net meer versigtig eet. (Weer reëls.) En as ek eet, mag ek net oats eet. En peanutbutter en appels en pere en goed met vesel.

As jy hierdie lees, ken jy seker ook al die rympie. En as jy gewonder het of ek al pre- en pro-biotika gebruik het… JIP.

En so was dit. Ek sou lang-tand my oats sonder melk en suiker eet. Al die slaafse reëls volg, en baie keer was dit tevergeefs! My maag wou net nie uit nie. En dit raak nogal ‘n obsessie.

Mens loop met hierdie groot teleurstelling en daar is orals kos-reëls en jou kolon weier om uit te gaan. Kan jy net die hartseer in daai een sin lees? Ek huil sommer as ek dink iemand moet daardeur gaan.

So verander ek toe my siening ek hou op met die reëls – ek bedoel en eet koekies, en brood en vleis en al daai goed nou, maar elke oggend na my ordentlike, vervullende ontbyt dan doen kolon sy ding.

Dalk is dit omdat daar minder spanning is sonder al die reëls of dalk is dit net ‘n phenomenom. Ek kan dit nie verduidelik nie.

Maar dit is vryheid in sy suiwerste vorm.

“Don’t make yourself small, to make someone else feel big.”
– Katrina Mayer

Featured

Lockdown en die Vryheid om te eet.

Iets heeltemal nuuts het in my lewe gebeur: Ek het besluit ek gee vir myself toestemming om enige iets te eet. Vryheid om enige iets te eet. Geen reëls. En van daar het ‘n nuwe, eenvoudiger lewe homself vir my oopgemaak.

Eerstens het ek agter gekom hoe dieselfde stem wat Anoreksie-lyers torment, ook vir my torment. Vir seker die laaste 20 jaar al! Ek is nou 27 en ek onthou hoe ek op ‘n skaal gestaan het seker hier by ouderdom 6 of 7. En toe sien ek die 15kg wat op die skaal staan. Wat nie belangrik was nie… wat wel belangrik was, was hoe ek op daai jonge ouderdom met myself baklei het omdat ek “vet” was. Ouderdom 12 het ek besluit ek moet nooit meer as 30kg weeg nie. Hemele bedek my, die dag toe ek op die skaal klim en sien ek weeg 32kg. Omdat ek so “vet” was, het ek besluit om trampolien te gaan spring en kort-kort terug gekom om myself te weeg. Ek was so klein. En hierdie geheim was hier binne my: “Ek is vet, en ek raak al hoe vetter. Ek moet alles doen om dit te stop.”

Ouderdom 15 – 16, het ek vir my eetplanne uitgewerk. Nooit regtig daar by gehou vir langer as 5dae nie. Ek het gewens ek het soveel wilskrag soos mense met Anoreksia. Ek het gecraveeee vir mense om te sê ek is klein of maer. En so gaan dit al aan vir die laaste tien jaar. Ek het die laaste 2 jaar intermittend fasting gebruik as verskoning om op te hou eet. Ek het op hou eet om op te maak vir my ooreet sondes.  

Ek was vir die laaste 2 jaar konstant besig om myself uit die mure te dryf met skuld gevoelens van “te min geduld”. Met myself en ander. En eintlik was ek maar net honger! In die oggende by die werk, gaap ek seker 5 keer in ‘n kwessie van 15 minute en in my agterkop het ek gedink, dis omdat jy teveel eet. Bygesê – hier het nog nie geëet nie. Ek sou eers 12 uur eet. Dit was ook waaraan ek gedink het deur die oggend. Ek dink hoe ek net moet vasbyt, want ek kan amper eet. En dan die skuldgevoelens… En die vrees dat ek later gaan ooreet, maar gelukkig het ek vir myself net genoeg kos ingesit. Gewoonlik goed soos vrugte en amandels. En eintlik al wat ek wil hê is chocolate. Teen 12 uur loop ek duiselig die gang af. Ek sê vir myself ek moet lekker vinnig loop om die laaste kos uit my lyf te verbrand. Ek is bly ek is so ver van die personeelkamer af, want dit beteken meer energie word verbrand. Ek dink ook dit sal my help om bietjie warmer te kry. En so lees ek hierdie afgelope week, dat anorexia verband hou met heeltyd koud kry. Ek het gedink, dit is maar net hoe ek is. My hande is maar net koud. My voete is maar net koud. En dan het ek gedink, dit is baie goed – want dan moet my lyf harder werk om homself warm te kry, en dan verbrand ek meer vet. Wen-wen, het ek gedink.

So gepraat van gange en daai bekende gevoel om met soveel wilskrag deur die duislig te probeer breek, onthou ek ‘n dag wat die verpleegster ‘n draai kom maak het en ons gesondheid kom ondersoek het. “Wow!”, het sy gesê, “jy is topfiks met hierdie lae hartklop.” Ek was so trots. Ek het my fitness instructortjie laat weet (en meeste van my vriende), en ek wonder of sy gedink het “hoe op aarde?”, want by die bootcamp klasse wat ek gemiddeld 2 keer ‘n week myself na toe gesleep het, het ek regtig nie so uitgeblink nie. Nou lees ek, lae hartklop is nog ‘n gevaarteken van anorexia. En ek het dit soveel maal in my borskas gevoel. Ek het stil geraak van hongerte (en dan het ek gedink “dis goed, wees stil en wees klein”), en in daai stilte, wat alles eintlik slowmotion raak en selfs my maag weet hy moet stil bly, het ek gehoor hoe dof en stadig my hart hier in my klop.

Nog iets oor daai gange: Ek onthou hoe ek daar stap, vinnig, koud en duiselig. Oppad om een of ander ding op my to-do lysie af te tick. En terwyl ek so stap, voel ek met my hande aan my lyf. Ek voel aan my heupe, my maag, my boude. Ek voel net nog vet. Gedagtes maal en maal en ek beweeg sommer vinniger en fokus weer op my to-do lys. Want to-do lysies was nog ‘n manier om my moeë lyf te kry om goed te doen…

Liewe Hemel. Dinge gaan anders wees na Lockdown.

As jy enige iets kon vra

Leser! Ek moet hierdie ding deel.

Het jy al ooit gevoel dit is nou ‘n belangrike oomblik om jou hartsverlange aan die Here te verklaar? Dit gebeur min met my, maar hopenlik van gisteraand af baie meer.

Dit het in die begin van die jaar met my gebeur dat ek ‘n verklaring wou maak. Ek het gevoel dit help nie ek vra nooit goed vir Jesus nie. En single en 27, soos ek is, weet ek van hierdie ou wat in die Kaap bly. En hy lyk nogal na ‘n goeie maatjie. Ken hom van geen kant, want ek het teen daai tyd seker 7 sinne met hom gepraat twee jaar van tevore. Maar op die oog af, lyk hy heel decent. En ek sien min mans wat vir my lyk of hulle al die boksies tiek – of ten minste, meeste boksies.

So die verklaring het so gebeur: Dit is Januarie, en iemand baie na aan my het selfmoord gepleeg, so ek moet nou Kaap toe gaan vir die begrafnis. My kop is in ‘n warboel, want eerstens het ek het nie gedink mense pleeg in die regte lewe selfmoord nie, en tweedens, die laaste woorde wat ek vir hierdie man gesê het, was die lelikste wat ek al ooit met iemand gepraat het. En daar kom die oomblik van oomblikke die aand voor ek Kaap toe ry oor my. Ek kry tussen al die malende gedagtes dit reg om nou vir die Here ‘n hartsbegeerte bekend te maak. Amper soos ‘n challenge – Die maklikste begeerte wat ek nou kan raakvat gaan ek nou gee. Leser. Kan jy my glo, ek het besluit ek gaan die Here so mooi vra ek gaan sommer op my knieë gaan. En toe vra ek hom dat ek hierdie man, met wie ek regtig geen kontak het nie, behalwe dat ons mekaar op Instagram follow, êrens kan ontmoet.

Die kans dat dit kan gebeur in die grote Kaap, gaan nou vir jou so groot klink. Want, hy het ‘n foto van my gesien wat in die Kaap is en my toe gekontak. Maar glo my, die kans was so belaglik klein.

En van hier af wil mens amper dink, die koffie-date was so great, en die date die volgende aand, selfs beter. Dat ek nou in die Kaap bly en ons wag vir die Lockdown om verby te gaan voor ons vir mense laat weet ons is verloof… Maar die Here is mos nou nie ‘n wensbeentjie nie. En ook nie instant poeding nie. Hy is wel ‘n magtige fors wat my weer tot geloof geruk het, deur iets so kleins te gebuik – om my te verseker Hy hoor. Hy is ook Ywerige Hartswerker wat geduld prakties maak.

Die koffie-date was inderdaad van die bestes waarop ek al was. So gemaklik. So spontaan. En in ‘n koffiewinkel wat ek eendag lank, lank gelede gewens het ek eendag ‘n date kan hê (en die plek was nie deur my geinisieër nie. Ook nie regtig deur hom nie. Hy het maar net op dit afgekom, nadat die plek wat ek voorgestel het, klaar toe was).

Ek het hom selfs daarna weer gesien. En hy was net ‘n vriend. En my hart het gejubel, want God het my gebed gehoor.

En toe was dit die begrafnis en veral daarna het die Hartswerker met my begin werk. Diep hoor. Dat ek party naweke alleen was en besef het hoekom selfmoord ‘n opsie raak. Maar Hy het my nie daar gelos nie. En my warboel-gedagtes het hy tot orde gebring. En gisteraand het ek weer aan hierdie storie gedink. Aan hoe ek op my knieë staan voor my bed… en ek wonder toe wat is my hartsbegeerte nou?

Ek was toe herinner aan Salomo. Salomo kon enige iets vra, en toe vra hy Wysheid. So dit is wat ek gisteraand gevra het. Jesus sê ook om aan te hou vra. So dit is wat ek nou gaan vra.

Koffie met Sina

My hart klop so vinnig toe ek voor haar huisie stop. Wasgoed hang op die draad, mielies staan hoog in haar groentetuin. Sy is besig om die rooi emmer vol water te tap by die buitekraan. Ek sien die klomp klein gesiggies in die straat groot-oog vir my kyk soos wat ek die geroesde hekkie oopstoot en die hoenders die hele werf vol spat. Sy stap stadig nader. Net ek glimlag. Sy het nogsteeds dieselfde letsel op haar gesig as van toe ons klein was. Ek kan nou net nie meer onthou hoekom sy dit het nie.

‘Shall we go?’ Vra ek. Ons het nog nooit eers Engels met mekaar gepraat nie, maar sy praat nie meer Afrikaans nie en ek kon nog nooit Xhosa praat nie. ‘Yes.’ Antwoord sy kort. En ek weet niks in haar wil regtig saamgaan nie.

Hierdie storie begin met myself ouderdom 5 en Sina 6. Sina was my ma se huishulp se dogtertjie. Naweke en vakansies het ons saam in die berg gespeel en huisies gebou en musiek gemaak met ou metale. Ons vriendskap was spesiaal. Sy was die beste maatjie.

Maar hierdie koffie is ‘n moeilike een, want vir die eerste keer het ek moed bymekaar geskraap. Sina verdien ‘n groot omverskoning, want ware vriendskap het sy nie by my gekry nie. Ure om het sy geluister hoe ek vertel van my lewe by die grootskool. Of vetrel van my drome en sonder dat iemand dit gesê het, het ons altwee geweet daai wêreld is nie vir haar beskore nie. Ek het haar vertel van my maats. Sy het almal se name geken. Ek wou so graag hê sy moet hulle ontmoet.

So eendag, nadat ons, ons nuwe huis in die berg gebou het, het ons besluit – wel eintlik gedroom – hoe ons ‘n party daar gaan hou. Sy sê toe wat van ek nooi my maatjies. Sy wou hulle so graag ontmoet. Ons het mekaar so opgewonde gemaak, dat ons net daar besluit ons hou Saterdag die party.

Hierdie deel is so moeilik om te skryf, want g’n van daai maats kon die Saterdag kom nie. En ek mag ook nie daardie dag gespeel het nie, maar ek gaan toe na hul huis toe en ek kry haar daar in haar kerkklere. Dit was die mooiste wat sy al ooit gelyk het. Haar hare was mooi gemaak, haar bene Vaseline gesmeer. Ek het dit geweet, want gewoonlik was daar sulke wit krapmerke op haar bene; ek en sy het partykeer prentjies op haar bene geteken, op myne ook – maar dit het nie so lekker op my witvel gewerk nie. En nou moes ek vir haar sê ons gaan nie meer party hou nie.

En dit het al hoe meer gebeur. Al my voorregte het my weggehou en voor ons, ons oë kon uitvee het ons stelselmatig uit mekaar se lewens verdwyn. Toe sy op 16 klaar maak met skool en ‘n babatjie kry, was ek amper oppad universiteit toe, nog verder weg.

Maar hier het ons nou voor mekaar gesit in ‘n koffiewinkel. Ek het klein gevoel teenoor die helse muur tussen ons; gebou uit taal, geskiedenis-modules, verlatenheid, seer, vrees, ou ideologieë en reëls… Al wat ek gehoop het, was dat ons mekaar weer so mooi sal kan verstaan. Ook dat almal kan ophou staar hier waar ons sit en vir ons koffie wag – my swart americano, haar wit cappuccino. Ek kon nie baie praat nie. Eindelik kon ek dit uitkry: “Sina, I haven’t been a good friend to you… I hope this can change.”

En dit was die begin van vryheid na jare se skuldgevoelens en hardheid. Dis nog ‘n langpad. Gelukkig het dit al 20 jaar gelede begin.

Cheers op dit, Sina. Cheers ook Sina, want daai wêreld, was toe al die tyd vir jou beskore. Is ons die enigste mense wat met koffie cheers?


Create your website at WordPress.com
Get started